“Het jy al ooit besef dat wanneer iets swaar op jou hart lê, klink musiek net anders?”
Met hoe baie ons in verkeer sit hier in Gauteng — ja, selfs as ’n voëltjie op die windscreen piepie, sit jy vas — is dit daardie oomblikke wanneer jy alleen gelaat word met jou gedagtes… en met musiek.
Ons leef in ’n tyd waarin ons ongelooflik geseënd is met talentvolle kunstenaars — sommige nog onbekend, ander so bekend dat dit ’n droom is om hulle live te sien — en dan natuurlik ook die nuwe era van AI-musiek.
Hierdie laaste week was ’n moeilike een. November hou soveel dinge in — dis ’n mengelmoes van emosies op een slag. Daar’s kinderlike opgewondenheid, ’n vrees vir die onbekende, en tog ook hartseer.
Die eerste Maandag van die maand was letterlik die begin van ’n nuwe hoofstuk in my loopbaan — iets om oor opgewonde te wees, reg? Maar Dinsdag toe slaan dit. Die onbekende bring altyd daardie bietjie onsekerheid saam, en toe tref die hartseer ook.
Vir amper vier jaar het ek ’n band gebou met mense in my span. Sommige was daar van dag een af, ander het intussen beweeg. Ons is nie beste vriende nie, maar daar is met elkeen iets unieks opgebou. En al bly ek by dieselfde werk, voel dit asof ek in ’n ander wêreld instap. Ek wonder of hulle teleurgesteld is, of hulle verstaan.
Wat buitestanders dalk as “sag” sien, was vir ons “steun.” Waar ander dalk swakheid sien, het ons mekaar se life line geword. Ek sal altyd dankbaar wees vir hierdie groep mense — hulle het my geleer hoe uniek elke mens is, en hoe mooi dinge werk as daar respek en menslikheid is.
En dan, aan die ander kant van al die emosies, is daar ook opgewondenheid: nog net ’n paar dae dan is Marthinus by die huis! KINDERLIK OPGEWONDE. Ek kan voel hoe rustigheid stadig maar seker oor my kom. Ek het gedink ek sal hierdie H2A-seisoen maklik hanteer — boy oh boy, was ek verkeerd!
In tye van onsekerheid mis mens daardie eenvoudige dinge: om net in ’n vertrek te stap en hy’s daar. Ná ’n lang dag by die kantoor, om huis toe te kom en te weet — dis waar ek rus kry. Ek sien so uit na die dae waar daardie vyf selfsugtige minute weer myne is, waar ons net ons kan wees. Ek dink daar’s ’n stewige kompetisie aan die gang oor wie die mees opgewonde is…
En dan is daar ook die mamma-momente.
My eerste “laaste” laerskool-eksamen — dis onwerklik. Hoe het hierdie klein dogtertjie só vinnig groot geword? Elke oggend staan daar hierdie jong dame voor my — vol selfvertroue, met oë wat blink van lewe. Dis ’n mengsel van trots en hartseer, maar soveel meer trots.
En ja, ek kry steeds my bederfies — cuddles, fliektyd, geselsies langs die bad. As sy nie by my sit nie, voel dit vreemd. Dan roep ek haar sommer — want ek mis haar nabyheid. Ons lag vir die simpelste dinge, en dis van die mooiste oomblikke wat ek ken.
My jongste — my laaste grondslagfase-kind — groei teen ’n spoed! Die stories, die gesigsuitdrukkings, die dans moves (next level 😄), die terggees… Dis ongelooflik om haar so te sien blom. En tog, hierdie mammahart is nog nie heeltemal reg om haar baba te sien verander in ’n dogter nie. Kan julle nie net nog ’n bietjie klein bly nie, my girls? 💕
Deur al hierdie emosies en momente was musiek my terapie. Hier’s ’n paar van die liedjies wat hierdie week saam met my gepraat het:
🎧
Jakkals Vibes – “As ek môre nie meer hier is”
“Sal iemand onthou wie ek was?
Verdwyn ek net in stilte?
Het ek ooit genoeg gelos?”
🎧
Alaura Lynne – “I Ain’t a Bitch”
“Well I ain’t a bitch till you make me one,
Push my buttons I go off like a shotgun.”
(My oudste rol nou definitief haar oë vir hierdie een 😅)
🎧
Fokofpolisiekar – “Die Goeie Ou Dae”
“Watse deel van die goeie ou dae mis jy?
Ek’s almal wat voor my was,
Nou’s ons glase vol — Urbanol en alkohol.”
Elke liedjie het hierdie week anders gevoel. Selfde lirieke, ander betekenis — want emosie gee altyd nuwe klank.
So vind jou vrede in daardie oomblikke van musiek en gedagtes. En moenie te hard wees op jouself nie. Ons bly maar net mens — en ons is geregtig om te voel wat ons voel.
Met liefde & koue koffie ☕
Chané
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes
