Die Dae Wat Sag Praat

Like this:

Die Dae Wat Sag Praat

“’n Lewe word gemeet nie aan sy lengte nie, maar aan die liefde wat agterbly.”

Ons het soveel verskillende herdenkings in ons lewe — vriendskapherdenkings, verhoudingherdenkings, huweliksherdenkings, gesondheidsherdenkings, afsterweherdenkings… Die lys kan lank word.

Met ’n dag soos vandag kruip dit al dae voor die tyd onbewustelik in jou onderbewussyn in. As mens ken jy jouself beter as enigiemand anders — jy vóél iets is nie heeltemal in plek nie, maar jy kan nie uitmaak wat dit is nie. En dan, skielik, slaan dit jou.

Tans dra ek soveel opgewondenheid in my: Marthinus is amper terug by die huis, my verjaarsdag lê om die draai, daar’s ’n nuwe geleentheid by die werk, en ons troue wag — soveel emosies op een slag. En tog word ek skielik tot stilstand gebring… want ek besef watter dag dit is.

Ek begin meer oplet hoe my girls optree, wat hulle sê, wat hulle doen. Ek dink terug, kyk fyn, en die klokkies begin een vir een afgaan. Klein Pikkewyn vra dat Lizel hier by ons moet wees — sy kom soek bietjie meer liefde, is sagter as gewoonlik. My yster Poppie staan sterk en gryp in waar ek begin wankel.

Ons bevind ons in die tydperk waarin ons twee jaar gelede ’n groot skok en hartseer beleef het. Dis amper onwerklik om te dink dis al twee jaar later. My twee pragtige dogtertjies het hulle pappa afgestaan aan die dood. Ons huwelik het nie uitgewerk nie, maar ons het altyd die beste vir ons kinders begeer.

Nou, aan die begin van ’n nuwe loopbaanhoofstuk, voel ek opgewonde, maar ook bang vir die onbekende. My kop is vol planne en prioriteite — en dan, onverwags, kom daardie gedagte aan my poppies: Hoe voel húlle vandag? Is hulle okay? Het hulle besef watse dag dit is? Hulle sê niks, maar ek weet hulle voel. En as mamma wil jy net daardie twee lyfies styf vasdruk en oor en oor sê: Ek’s hier. Ek’s lief vir jou. Dis okay om te voel.

Daardie oomblik wanneer ek hulle sien — die blydskap in hulle oë — dis soos asemhaal na ’n lang duik. Dis geselsies oppad huis toe, gelag, stories, gewone dinge. Nog ’n normale aand: kosmaak, bad, bed toe, stilte.

En dan, wanneer die huis stil raak, bly dit net ek en my gedagtes oor. Ek wonder: wat gaan deur hulle klein harte? Is hulle bang om iets te sê? Dalk bang om weer seer te voel? As mamma loop ek soms op eiers — bang ek sê te veel, of dalk te min. En tog weet ek, al is daar stilte, ons dra dieselfde herinnering. Net op verskillende maniere.

Ek is dankbaar vir Marthinus. Ek het vroeg vanoggend al gedeel hoe die dag begin het, en die manier hoe hy my geantwoord het en my so normaal hanteer het. Maar ek kon sien — tussenin die video call — hy kyk bietjie meer as gewoonlik, hou my dop, lees tussen die lyne. Dis asof hy weet ek dra hierdie vrae in my kop, al sê ek dit nie. Hy gee my rustigheid, sekerheid, veiligheid. En so kan ek dieselfde doen vir die girls.

As mamma hoop ek dat my girls weet hulle kan op hul eie manier hul pappa se lewe herdenk. Ek hoop hulle weet hulle hoef nooit bang te wees om oor hom te praat nie (glo my, ons het al heerlik gelag oor dinge wat saam hom aangevang is). Ek hoop hulle weet hulle kan steeds die liefde wat hulle vir hom voel uitleef, dat hulle kan weet hy is altyd by hulle. (Klein Pikkewyn het my al vertel hoe hy haar gehelp het met Wiskunde in die klas.)

Ek is só trots op hierdie twee girls van my. In twee jaar het hulle gegroei in die mooiste twee blomme en soveel bereik. My Poppies — hierdie mamma is onbeskryflik lief vir julle, en so trots. Ek weet Marthinus deel hierdie gevoel van liefde en trots saam met my.

Saam sal ons nog baie bereik. En op dae wanneer julle voel julle vergeet iets, is ek hier om julle te herinner:
Moet nooit bang wees nie, my girls — leef. 🌸

Met liefde en koffie
Chané
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Like this: