Welkom aan My Tafel

Like this:

Welkom aan My Tafel

Soos die jare verbygaan en ons skoolgeld betaal vir die lewenslesse wat ons vorm, begin ons siening oor dinge verander. Ons kyk anders, voel anders, leef anders. Ek voel dit diep in myself—hoe my uitkyk oor die wêreld in die afgelope twee jaar só verander het dat ek soms vir myself vra: “In wie het jy verander?”

Voorheen was ek altyd reg vir die fight—reg vir die konflik, reg om terug te “slaan”, reg om te bewys ek is reg, al was ek dalk verkeerd. Vandag kies ek anders. Ek het besef dat môre vir niemand van ons belowe is nie. En dat jy, selfs op jou laagste laag, steeds vriendelik kan wees—al is dit net ’n glimlag vir ’n vreemdeling. (En nee, ek gaan steeds nie in Woolies met ’n vreemde oom tussen die rakke ‘n gesprek aanknoop nie… maar ek sal vriendelik wees.)

Wanneer ek na my kinders kyk, besef ek hoe hulle geblom het—met hartjies vol verlange, vol sagtheid, vol seer wat hulle steeds dra. Hulle mooi persoonlikhede laat my oë sommer vol trane word. Ek probeer my in hulle skoene sit, maar vir my ouderdom kan ek nie eers indink hoe dit moet voel om ’n dag te beleef waar ek nie meer met my pa kan praat nie. Ons sit nie altyd by dieselfde kampvuur nie, maar hy is steeds my pa, en ek is lief vir hom.

My kinders leer my ook om lief te hê soos ’n kind liefhet—oop, eerlik, sonder voorbehoud. Elkeen op hul eie unieke manier. Die liefde wat hulle vir Marthinus het, smelt my hart elke keer. Ek praat nie sommer namens hulle nie, maar ek kan sien hoe hy hulle harte laat sag word, net soos hy myne laat sag word. Die oomblikke tussen hulle drie los my dikwels sprakeloos.

Elke dag staan ons op met ’n keuse oor hoe ons wil wees. Ek gaan nie lieg nie—sommige dae is dit moeilik om vriendelik, behulpsaam en sag te wees. Op sulke dae kruip ek liewer weg tussen die mure van my huis, want ek wil nie iemand anders se dag swaarder maak nie. Ek kies om die beste weergawe van myself te wees, al druk die lewe my soms op my knieë. Ek sal altyd my trane wegsteek agter ’n glimlag, want dis hoe ek oorleef.

Emosioneel het ek vir lank ’n rollercoaster gery. Een wat my baie geleer het—oor wat ek nie aan ander wil doen nie, wat ek nie meer wil sê nie, en veral hoe ek nie ander wil laat voel nie. My selfvertroue was vir ’n lang tyd laag. Tot daardie dag toe my hart só geklop het dat ek regtig gedink het ek kry ’n hartaanval. Maar dit was my draai­punt. My besef-moment: kies jou battles. Nie almal is jou vrede werd nie.

Daarom, wanneer ek vir jou ’n sitplek aan my tafel gee, moet jy weet: ek het reeds elke moontlike rede gesoek om jou nie daar te hê nie. Ek het myself gevra of ek veilig is, of ek my hart moet beskerm, of ek dit weer gaan oorleef as iemand my seermaak. En as jy nie meer aan my tafel sit nie, dink terug aan wat ek met jou gedeel het… en aan wat jy gedoen het. Gebruik dit vir self-reflection. Heel moontlik sal jy besef dat jy presies daardie ding gedoen het waaroor ek jou gewaarsku het.

Soms beskryf mense my as “hard”. En ek is okay daarmee. Daardie bietjie hard in my was nodig—dit was hoe ek oorleef het. Hoe ek vir almal om my sterk gestaan het wanneer ek nie vir myself sterk kon wees nie.

So welkom by my tafel.
Weet dat jy vir my meer beteken as wat woorde ooit kan beskryf.
En vir jou sal ek baklei—tot die einde.

Met liefde & koue koffie ☕
Chané
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Like this: