’n Jaar wat my wou breek, maar my net sterker gemaak het.
Wat ‘n jaar was 2025…
Na die aanpassings, emosionele rollercoaster en uitdagings van 2024 het ek regtig gedink 2025 gaan sagter wees. Rustiger. Makliker. ’n Walk in the park.
Maar nee — 2025 het ander planne gehad.
Nog ‘n jaar van verlange & tydsverskille
Die jaar het begin met hoop. Hoop dat Marthinus werk in Suid-Afrika sou kry. Daardie hoop het egter bitter vinnig verander in teleurstelling toe hy weer Amerika toe moes gaan. Met tyd wat nie aan ons kant was nie, was daar nie ruimte om alles behoorlik te verwerk nie. Die verlange en leemte het dadelik ingetree — soos ’n stilte wat net harder word hoe langer jy dit ignoreer.
Avonture wat die hart vol maak
Ten spyte van alles was daar steeds lig.
Ek en die girls was geseënd om avonture aan te pak saam ons hartsmense. Goo Goo Dolls Girls Night (ja, gaan lees weer oor my ninja moves), Afrikaanse musiekfeeste waar ons elke keer nat gereën is, ’n besoek aan die Chocolate Factory, en vele huiskuiers wat soos balsem vir die siel was. Klein oomblikke, groot herinneringe.
‘n Geduld toetser genaamd skool
Skool… genade.
Graad 7 was akademies intens — huiswerk, projekte en leerwerk wat soms soos ’n voltydse werk gevoel het. My oudste se padkaart-projek het my amper meer emosioneel uitgeput as haar. Ná vele probeerslae het dit uiteindelik reg uitgekom, maar ek was self al naar vir daardie padkaart.
Klein Pikkewyn se kooroptredes het militêre beplanning vereis — want daar is min dinge so ongemaklik soos om ’n lokaal binne te stap met ’n oorfoon in die oor en ’n aanlyn vergadering op jou foon.
En dan… hokkie-oefening.
Ek was meer as een keer op my per door. Student-onderwyseresse met groot energie en min realiteit, aannames dat mamma’s altyd beskikbaar is, en die idee dat kinders net één buitemuurse aktiwiteit het. Maar ten spyte van alles — my oudste was ’n uitmuntende goalie. En ek was trots. Bitter trots.
Gejaag van hoek tot hoek
Werk het afgeskop asof daar nooit vakansie was nie. Ons het net in die middel van die wedloop ingeval en begin hardloop. Toe ons dink ons kan asemhaal, bars die bom — en toe slaan ons vure dood in plaas van net hardloop.
Nagte is omgesit vir werk, maar ek was nie alleen nie. Een van die min voordele van die tydsverskil was lang geselsies met Marthinus. Soos die jaar gevorder het, het motivering by baie mense begin verdwyn, en dit was uitputtend om dit te probeer herstel — veral wanneer kritiek makliker as ondersteuning was. Tog het ek oorleef. En nou kyk ek nuuskierig na wat 2026 vir my loopbaan inhou.
Steeds dankbaar, steeds groei
Daar was ook siekte — ’n dag wat ek nooit sal vergeet nie. Ons al drie was siek, en ek het gedink dis iets onskuldigs. ’n Oproep aan my bestie (my non-payment dokter) het vinnig verander in ’n dokterbesoek.
Een oomblik later sak my oudste soos ’n pap snoek inmekaar. Die kleintjies histeries, ek skrik myself in ’n nuwe bloedgroep in saam die dokter, en daar sit sy — verward.
Later, toe ek met Marthinus praat, het die trane gekom. Ek huil nie sommer nie. Maar selfs op ’n afstand was ek dankbaar vir sy omgee, ondersteuning en troos.
2025 het my nederig gehou. My geleer. My uitgedaag. My geduld getoets. My moeg was regtig moeg. En tog… is ek dankbaar.
Dankbaar vir nuwe vriendinne.
Dankbaar vir groei as vrou en mamma.
Dankbaar vir groei saam my kinders.
Dankbaar vir groei in liefde.
Die jaar sluit af op ‘n hoë noot
2025 het afgesluit met ons pragtige bruilof. Wat is beter as om een te word? Die lekkerste, lekkerste, lekker. Ek sien opreg uit na ons toekoms as man en vrou.
Ons was ook geseënd om Kersfees saam die skoonfamilie te vier — ’n ware fees. Om saam geliefdes te wees, bly altyd ’n seëning.
2025, jy het gedink jy gaan my breek.
Maar jy het my onderskat.
Hierdie koekie breek nie so maklik nie.
Met liefde & koue koffie
Chané
