Ek glo ons almal het al op ’n tyd gedink dat ons optrede dalk ooreenstem met dié van ’n narsis. Dit laat jou skrik, dit dwing jou tot selfondersoek… maar verstaan ons regtig hoe diep die impak van ’n ware narsis sny in die lewens van kinders en geliefdes?
Hier volg die sewe eienskappe wat die meeste skade aanrig — dikwels stil, dikwels ongesiens, maar altyd vernietigend.
Skaamteloosheid
’n Narsis funksioneer sonder skaamte. Hulle sin kom altyd eerste, en die behoeftes van ander word as hinderlik beskou. Skaamte voel vir hulle soos ’n aanval op hul “perfektheid”, en daarom verkies hulle skuldgevoel — want skuld kan hulle van hul gedrag losmaak.
Hoe ironies is dit dat ons in ’n wêreld leef wat reeds onmoontlike perfeksie van ons vereis, maar dan laat ons soms toe dat iemand anders nóg die standaard probeer dikteer? Selfs ek is skuldig daaraan om te vergeet dat ek uniek geskape is — nie gemaak om iemand anders se perfektheid te dra nie.
Magiese Denke
Narsiste glo hulle is perfek, maar dié geloof is ’n illusie, bymekeer gehou met verwringing, ontkenning en projeksie. En wanneer skaamte wel kom klop, skuif hulle dit vinnig op iemand anders af.
Hierdie “magie” voel nie soos towerkrag vir hul geliefdes nie — dit voel soos gasligting.
Arrogansie
Wanneer ’n narsis bedreig voel, herstel hulle hul ego deur iemand anders te verkleineer. Ons het almal al arrogansie beleef — daardie steek van minagting wat jou lank ná die gesprek nog laat nadink.
Maar wanneer dit tussen ouers gebeur, en veral voor kinders, raak dit vernietigend. Is dit ’n poging om die kind teen die ander ouer te vergiftig? Of bloot ’n behoefte om mag te behou? Wat hulle nie besef nie, is dat die letsels eers jare later ten volle sigbaar word.
Jaloesie
Narsiste hou hul gevoel van meerderwaardigheid in stand deur iemand anders se sukses te verklein.
Ons almal ervaar op tye ’n “mooier” jaloesie — die soort wat net wys ons meet onsself teen ander. Maar narsistiese jaloesie is giftig. Ek sien dit selfs in kinders se gedrag, en dit is hartseer… want dit sê meer oor die ouer se invloed as die kind se karakter. Die impak? ’n kind wat leer dat liefde ’n kompetisie is.
Geregtigheid
Vir ’n narsis is hul opinie altyd die waarheid, en hul begeertes altyd ’n reg. Spreek jy dit aan, is jy “moeilik”. Hulle ontken hul eie woorde, hul eie gedrag, want enige konfrontasie voel vir hulle soos ’n aanval op hul superioriteit.
Maar ons almal is geregtig op ons eie opinies, ons eie keuses, ons eie menswees. Tog word dié regte gou gesteel wanneer jy saam met ’n narsis leef.
Uitbuiting
Die uitbuiting kan emosioneel, prakties, finansieel of selfs subtiel wees — maar dit is altyd gerig daarop om ander se hulpbronne te tap sonder enige teruggee. Ek sien dit tans op maniere wat grens aan ongelooflik: finansiële druk, manipulering onder die dekmantel van “samewerking”, en ’n totale blindheid vir die effek op ’n kind.
Vir die narsis is die kind ’n hulpmiddel.
Vir die ouer wat beskerm… is dit ’n noodkreet.
Slegte Grense
Vir ’n narsis bestaan ander mense net om hul behoeftes te bevredig. Die idee dat iemand ’n aparte wese is — met eie grense, emosies, en waardigheid — is vir hulle vreemd. Wanneer jy jou grense stel, sien hulle dit as verraad.
Die Onsigbare Letsels
Die skade van narsisme is nie altyd sigbaar nie. Dit woon stil in kinders se harte — in hoe hulle voel, praat, vertrou, liefhet, en hulself later in verhoudings gedra. Die herstel ná ’n narsistiese verhouding is lank, en dikwels eensaam.
Soms word ’n ouer vervreem. Soms word ’n kind teen die ouer gedraai. Soms stap die narsis weg as die “held”, onbewus dat almal om hulle reeds deur die masker kyk.
Maar waarheid kry altyd lig.
En kinders sien meer as wat ons dink.
Met liefde en koue koffie,
☕ Chané
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes
