Uit my hart, uit my kop

Like this:

Uit my hart, uit my kop

Ek skryf vandag uit daardie plek tussen my hart en my kop — waar dinge soms bly vassit. Waar opinies nie altyd welkom is nie, en kritiek makliker kom as begrip. Dis my manier om hardop te dink oor hoe ons met mekaar praat… en hoe vinnig ons ophou luister.

Die afgelope paar weke het ek myself dikwels betrap dat ek wonder: Wanneer het ons begin ophou luister na mekaar? Ek sien dit oral — op sosiale media, in gesprekke, selfs in vriendekringe. Dis asof ons nie meer ruimte los vir eerlike opinies nie. En ironies genoeg, is dit meestal vrou teenoor vrou. Ons word voortdurend aangemoedig om oop te wees:

“Moenie dinge opkrop nie,” sê hulle.
“Praat oor wat jou pla. Deel wat jy voel.”

Maar sodra jy dít doen, word jy soms stilgemaak. Of erger nog — verwyder uit die “veilige spasie” wat juis bedoel was om jou te dra.

Kritiek is kritiek

Mense is deesdae vinnig met menings en stadig met begrip. Een van die mees algemene vorme van kritiek wat vroue kry, is oor hul gewig. Ons leer met tyd om dit af te lag, maar diep binne weet ons: dit steek. Daardie kommentaar bly “rent free” in die agterkop — al probeer jy dit ignoreer. Maar het jy al ooit stilgestaan by waarom iemand se liggaam verander? Gesondheid, hormone, stres, medikasie, selfs seisoene in die lewe — alles dra by. Dis nie altyd so eenvoudig soos “sy sit te veel lekkernye oor haar lippe” nie. Ek is op ’n punt in my lewe waar ek jou kritiek sal hoor, maar ek gaan dit onthou. En as ek jou later op ’n afstand hou, moet jy nie vra hoekom nie. Soms beskerm “arms length” net wat van my oor is.

Opinies – ons almal is geregtig op een

Wat my regtig pla, is hoe vinnig ’n vrou aangeval word wanneer sy haar opinie deel. Nie omdat sy iemand afkraak nie, maar bloot omdat sy durf praat. Ek verstaan nie hoekom ons mekaar só behandel nie. Ons hoef nie altyd saam te stem om mekaar te respekteer nie. As ek nie met jou opinie saamstem nie, kan ek kies: ek kan met jou daaroor gesels, of ek kan dit net los. Maar om jou te verneder of aan te val, maak my geen beter mens nie. As ons almal daarna streef om volgens die Woord te leef, beteken dit tog ook dat ons met sagtheid en respek moet verskil. Opinies is nie wapens nie — dis vensters na hoe iemand anders die wêreld sien. En dalk, net dalk, leer ons iets as ons ophou praat net om te antwoord… en weer begin luister.

Kritiek en opinies oor onsself

Daagliks, as vroue, sien ons onsself selde in dieselfde lig as wat ander mense ons sien. Jy kan vir my sê ek lyk mooi, of “well done” op my gewigsverlies-journey — maar wanneer ek alleen voor die spieël staan, sien ek iets anders: ’n arm met “tata-velle”, ’n maag met ’n “kangaroo pouch”. Ons kritiseer onsself daagliks oor iets — en het opinies oor onsself sonder ophou. Die laaste ding wat ek nodig het wanneer ek reeds sterk oor iets voel, is dat ek aangeval moet word daaroor. Net soos jy geregtig is op jou opinie, is ek ook geregtig op myne.

In plaas daarvan om te oordeel of aan te val, probeer vir ’n oomblik om jouself in daardie persoon se skoene te plaas. En as jy dan nog steeds dieselfde voel, spreek dit respekvol aan. Maar as jy nie jouself in daardie persoon se skoene kan sien nie — kies eerder stilte. Op die ou end verbind ons die diepste met mense wat eg en realisties is — nie dié wat voorgee om te verstaan, of voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie.

Met liefde en koffie,
Chané ☕
Liefde, Laptops & Growing Feet
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


Like this: