Die dag wat nie volgens plan gegaan het nie
Wat ’n date night moes wees saam met Marthinus in Desember, het toe ’n Girls Night geword saam met my beste vriendin.
Laat ek by die begin begin: vol opgewondenheid en ’n mengsel van gelukkigheid en hartseer — maar eers moes ons gaan werk. En nie kantoorwerk nie — nee, ons moes die container leegmaak.
Vir die wat my goed ken: ja, daardie container.
Vir die wat nie weet nie — hier’s die kort weergawe:
Die container was vol van my oorlede ex-man se workshop-goed — tools, parte en allerhande gemors.
Hy was ’n versamelaar van formaat. Ná sy dood (voor ons egskeiding nog gefinaliseer was) het ek “alles geërf”. En vir maande het ek net uitgestel. Maar nou was dit tyd — dis immers nie regverdig om te betaal vir iets wat ’n wit olifant geword het nie.
My beste vriende het my gehelp. Ons was vroeg op, kinders in die kar, koffie in die hand, en natuurlik die noodsaaklike pitstop vir iets koud om te drink.
Dis die eerste keer in lank wat ek weer by daardie plek kom — en eerlik, dis ’n hoofstuk wat ek lankal moes afsluit. Nie net vir myself nie, maar ook vir my girls.
Dis die laaste tasbare stukkie van hul pa, en al was hulle verveeld, dink ek daar was tog ’n tikkie troos in die laaste bietjie van hom.
Sweet, stof en skatte
Die dag raak lank en warm. Ons dra, sorteer, sweet en lag. My vriendin se jongste seuntjie is in sy element — hy ontdek “nuwe” skatte tussen die gemors, en sy oë blink soos sterre. Maar ons is op ’n missie. Want, kom ons wees eerlik: ons mag nie Goo Goo Dolls mis nie!
Na die eerste vrag ry ons na my vriendin se huis, laai af, en die kinders maak iets vinnigs om te eet.
Dan terug vir vrag twee. Ons is moeg, maar opgewonde. Die werk is klaar, die sweet afgespoel — dis tyd vir Girls Night!
Girls Night: The Goo Goo Dolls live!
Voortrekker Monument — hier kom ons!
Ons kry ons sitplekke, kyk oor die see van mense, en vir die eerste keer vir die dag kan ons net asemhaal.
Ek besluit dis tyd vir iets om te drink… en ook vir ’n vinnige badkamerbesoek. Die bar-area lyk soos ’n miernes wat ’n stuk koek ontdek het — ek kan nie eers uitmaak waar die rye begin of eindig nie. Na 30 minute se wag kry ek uiteindelik die biere. Die glase? Dunner as my geduld. Vier biere, twee hande — dis ’n missie. Ek begin terugstap, maar lyk soos Grietjie in die sprokie — elke paar treë mors ek. Ek probeer slim wees en vat ’n paar slukke uit elke glas om minder te mors. Spoiler: dit werk nie. 😅
Teen die tyd wat ek by Bronwyn kom, is seker ’n kwart van elke bier verlore. Sy lag só dat haar skouers skud.
En toe — The Goo Goo Dolls.
Wow. Hulle was ongelooflik.
Ons het ons harte uit gesing en saam verlang na die ou dae. Ek het my telefoon vol video’s gemaak om vir Marthinus te stuur — dis die enigste manier hoe ek hom by die oomblik kon intrek.
Die “lang” pad huis toe
Na die show stap ons die lang pad terug na die kar — en natuurlik, niemand onthou presies waar ons geparkeer het nie. Dis nie die tipe konsert waar jy vroeër uitstap om verkeer te mis nie. Ons het FOMO, en daar was géén manier dat ons Iris sou mis nie.
Toe ons uiteindelik in die kar is, tref die wêreld se grootste nood my: ek moet badkamer toe. Nou.
Bronwyn maak haar venster oop, sê vir die verkeersman dat daar géén manier is dat ons ’n ompad ry nie, en skree:
“Go-go-go!”
Ek lag en knyp en voel of alles in slow motion gebeur, want ek gaan enige oomblik veroorsaak dat ons huistoe swem. By die huis spring ek soos ’n ninja uit die kar, storm op die deur af — maar die veiligheidshek is gesluit. Paniek. Ek kry dit nie oop nie. Daar’s geen tyd nie. Ek besluit: vanaand tree ek soos ’n man op. Ek draai net daar om en maak die gras bietjie nat. 🌿😳 Werner hoor my chaos en kom kyk — ek gil vir hom om “Nee, nee, moenie uit kom nie!!” ; dit was bitter naby dat hy het meer gesien het as wat hy wou sien! Bronwyn kom om die draai, sien my, en lag só dat sy self amper in ’n krisis beland.
Die herinnering wat bly — maar saam ’n tikkie hartseer ook
Maande later, elke keer as ek daaraan dink, glimlag ek. Die beeld speel soos ’n fliek in my kop af — en ek is dankbaar. Dankbaar vir die vriendskap, die lag, die chaos en die liefde. En selfs meer dankbaar dat ek dit kon deel met my hartsmens. My maat, ek is lief vir jou. 💕
Saam met die mooi herinnering is daar ook ’n tikkie hartseer.
Hierdie was ’n droom van my en Marthinus, maar weens omstandighede buite ons beheer was hy al reeds in Amerika. Mag ons in die toekoms vele geleenthede kry om drome soos hierdie saam ’n waarheid te maak.
Met liefde en koffie, ☕
Chané
Liefde, Laptops & Growing Feet
Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes
