Kilometers van liefde, lesse van waardering
Header V4

Like this:

Kilometers van liefde, lesse van waardering

Die ongesiene uitdagings en dankbaarheid wat ‘n H2A-seisoen bring.

Ons is deur die eerste week van hierdie seisoen, en man oh man, hy was sommer propvol uitdagings.

Vir eers was ons vir 'n oomblik in ons eie wêreld van aanpassing. Ons moes 'n nuwe oggendroetine kry (hoofsaaklik hierdie mamma). Dis koud, en vroeg opstaan is moeiliker as normaalweg. Gelukkig is daar een van die drie in die huis wat, selfs al is dit moeilik om vroeg op te wees, steeds haar dag begin en die res van ons uit die vere jaag.

Die skoolverkeer bly darem maar 'n pyn, selfs in eksamentyd. Hier het ek gedink dit gaan beter wees omdat die hoërskole bloktyd het, maar op hierdie stadium twyfel ek sterk of bloktyd werklik bestaan as ek kyk hoe die verkeer party oggende gestaan het. Daar was 'n paar oggende wat ek sommer in my PJ's in die kar gespring het om Kleintjies betyds by die laerskool af te laai.

Ek voel steeds die laerskool moet 'n beter plan kry om verkeer beter rondom die skool te laat vloei. En nee, om die skool vroeër te laat begin is verseker nie die oplossing nie. Bad move on your part!

En daar is opnuut weer die waardering dat ek gehelp is met die school run in die oggende.

Dan is daar aandetes. Kyk, dit was met almal in die huis ook maar 'n uitdaging, maar nou nog meer as voorheen. Daar was al tye wat ek teen 18:00 nog nie geweet het wat vir aandete gaan wees nie. My eetlus is op sy eie H2A-seisoen. Vandag raak ek glad nie honger nie, môre begin die honger my bekruip, en die volgende oomblik wil ek alles eet wat voorkom. Rollercoaster overload wat eetgewoontes betref.

Intussen het ek en my oudste besluit om 'n paar opsies vooruit te kies. Ek sorg dat alles in die huis is, en wanneer ons almal by die huis is, kondig ek die menu aan, net iets daaruit kan gekies word. So ver werk dit redelik goed.

MAAR, as daar nou 'n kans is vir gatskuur vir Kleintjies, dan verander die menu vinnig. Ek sal nooit vergewe word as ek mash moet maak en sy slaap oor by 'n maatjie nie. Die mash-en-wors-opsie was eers vir Saterdag beplan, toe Sondag, maar Sondag het toe spaghetti bolognese geword. So word daar hopeloos te veel pasta gemaak en nie eens spaghetti nie, maar fusilli. Nou word daar reeds planne gemaak oor wat met die ekstra pasta gemaak kan word.

Weer was daar 'n geleentheid vir gatskuur, en die mash skuif nóg 'n dag aan. Intussen het ek maar die wors gaar gemaak sodat dit nie vrot word nie. Môre is mash en wors uiteindelik op die menu.

Die bacon mac and cheese is ook in oorvloed. Dit kan weer geëet word, of dalk saam skool toe gaan en as middagete vir die oudste na haar dag by die skool.

Daar is waardering dat ek die meeste van die tyd hulp gehad het met kosmaak. Ons het ons lippe afgeëet. (My klere sê ook vir my ek het lekker geëet 😉.)

Werk is op-en-af. Ek voel soos iemand wat heeldag net toegang gee vir personeel. Kort-kort is daar iemand wat iets nodig het. Dan is dit nuwe rekeninge oopmaak. Dan moet "IT issues" uitgesorteer word, terwyl dit eintlik meer user issues is as enigiets anders.

Dis vergaderings, boude wat lam gesit word, mense wat hoor wat gesê word, maar nie luister of verstaan nie. Idees hardloop deur my kop oor die uitdagings wat daar is, en elke keer kom dit vir my terug dat daar 'n groter probleem is as wat die oog kan sien. Maar so gaan ek aan. Dis net nog 'n week met sy uitdagings. Elkeen sal oorwin word.

Daar is waardering dat ek ná 'n werksdag my frustrasies kon deel voordat dit op die verkeerde plekke uitgekom het.

Voor Marthinus weg is, het hy genoem dat die skottelgoedwasser snaaks klink. Dadelik begin ek rondvra of daar iemand is wat kan help om dit reg te maak en ek shop ook vir ‘n nuwe een. Alle opsies word ondersoek. Google word my beste vriend terwyl ek probeer uitfigure wat die probleem kan wees.

Ek moet net bysê: die geluide wat Marthinus en my oudste hoor, hoor ek glad nie. Maar ek verduidelik die geluid aan Google en kry sommer 'n paar moontlike antwoorde.

My "fixer"-hoed gaan toe aan. Die filters kom uit en word gewas. Die dreinwater word uitgehaal en ek moet selfs my hand in die dreingat druk om te voel of daar iets is wat die probleem kan veroorsaak. Intussen word daar besluit die skottelgoedwasser kort 'n behoorlike tub clean. Ons DIY dit toe – eers asyn op die langste, warmste siklus, en daarna koeksoda op nóg 'n lang, warm siklus. Alles is skoon. Niks klink vir my snaaks nie. Ek glo my oudste stem saam omdat dit regtig beter klink en nie net omdat sy my goed wil laat voel nie.

Daar is waardering dat ek gewoonlik hulp gehad het met sulke grillerige takies soos om die filters skoon te maak. Ek is seker die filters sou skoner gewees het as wat ek dit gewas het. Ek het behoorlik gegril deur die hele proses.

So ry ons later in die week in gesprek huis toe, en die volgende oomblik staan ons langs die pad.

Daar is doodse stilte in die kar. Almal kyk verskrik na mekaar. Ek ervaar 'n oorvloed emosies op een slag. My eerste gedagte is: Ek moet my man bel.

Wag. Ek kan nie. Hy slaap, want hy moet rus om later te werk. Hulle beplan om deur die nag te werk. Ek pluk die kar se manual uit. Ek moet die warning light verstaan. Maar enigiets wat met die engine te doen het, voel klaar soos groot bollie. Ek bel my pa en sluk hard aan die trane, want Kleintjies is reeds in trane. Ek het intussen die foto van die manual vir hom gestuur. Hy verduidelik rustig wat ek moet doen om ons veilig by die huis te kry en tref die nodige reëlings vir die kar. Ons kom veilig by die huis aan, en daar is verligting. En net om dit by te sê: seker vier mense het by ons verbygery. Niemand het gestop om te vra of ons hulp nodig het nie. Duidelik is mense deesdae te bang om hulp aan te bied.

Ek kan net dink hoe my man moes voel toe hy wakker word en my boodskap oor die kar sien. Ek kon in sy stem hoor dat hy moedeloos was, nie net oor die kar nie, maar ook oor die magteloosheid.

Daar is skielik 'n hernude waardering vir jou beter helfte wanneer so iets gebeur. Dis 'n voorreg om net 'n foon op te tel en mekaar te bel. Jy hoef nie ure te wag as gevolg van 'n tydsverskil nie. Jy kan net bel.

Ons wag toe om te hoor wat fout is met die kar nadat die kar laatoggend kom haal is. Ons word ingelig dat daar geen fout is nie, en hulle bring die kar later terug. Nie eens tien minute later nie, lui die foon weer. Die drywer het met die kar gaan staan. En hy wil nie start nie. GREAT. 'n Hele naweek sonder my kar. Dankie tog ons leef in 'n tyd van 60/60 en Mr Delivery.

Dis die klein dingetjies wat eerste gemis word en die meeste gemis word in so 'n H2A-seisoen.

Jy waardeer die oproepe in dieselfde tydsone.

Jy waardeer die hulp terwyl jy besig is om iets anders gou te doen.

Jy waardeer die motiverende woorde terwyl jy in mekaar se arms kan wees.

Jy waardeer die teenwoordigheid, selfs al is dit in stilte.

Met liefde

Chané

Balans tussen deadlines, drome & dirty dishes.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Are you human? Please solve:Captcha

Like this: